Omring jou met die regte mense
- Wanda Bam

- May 4
- 3 min read

“Nie almal wat jou pad kruis, is bedoel om jou reisgenote te wees nie.” – Wanda Bam
Die mense met wie ons onsself omring, het ’n diepgaande invloed op ons denke, houding en uiteindelik ons lewensrigting. Positiwiteit is aansteeklik, maar so ook negatiwiteit. Wanneer ons doelbewus kies om saam met mense te stap wat glo, groei en volhard, skep ons ’n omgewing waarin oorwinning - geestelik, emosioneel en prakties, kan plaasvind. Hierdie beginsel is nie ’n moderne selfhelp-idee nie; dit word duidelik weerspieël in die lewe en bediening van Jesus Christus.
Jesus het almal liefgehad, maar Hy het nie almal dieselfde toegang tot Sy lewe gegee nie. Dit is ’n belangrike waarheid. Hy het vir skares gepreek en met deernis na die gebrokenes uitgereik, maar Hy het Hom daagliks omring met ’n kleiner groep toegewyde volgelinge, die dissipels. Selfs binne hierdie groep was daar ’n binnekring - Petrus, Jakobus en Johannes. Dit was húlle wat Jesus saamgeneem het na die mees intieme en impak-vormende oomblikke soosdie verheerliking op die berg, die opwekking van Jaïrus se dogter, en Sy diepste worsteling in Getsemane.
Waarom sou Jesus dit doen? Omdat roeping en doel vereis dat mense in jou lewe in lyn moet wees met dit waartoe jy geroep is. Jesus het verstaan dat Hy mense rondom Hom nodig gehad het wat bereid was om te leer, te groei en uiteindelik die werk voort te sit. Hulle was nie volmaak nie. Dikwels huiwerig, onseker en stadig om te verstaan, maar hulle was leerbaar en toegewyd. Dit is die kern van “wen-mense” - nie mense sonder foute nie, maar mense wat vorentoe beweeg, nie agtertoe nie. Dis soos Paulus dit later ook eggo in Fillipense 3 wanneer hy sê: “Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek, ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.”
Terselfdertyd was Jesus baie intensioneel om die invloed van negatiewe, trotse en ongelowige mense te beperk. Die Fariseërs was hoogs godsdienstig, maar geestelik giftig. Hul konstante kritiek, wettisisme en weerstand teen die waarheid het nie Jesus se identiteit of roeping gevorm nie. Hy het hulle aangespreek wanneer nodig, maar Hy het Hom nie met hulle omring nie. Waar ongeloof die atmosfeer oorheers het, soos in Nasaret, het Jesus min wonders gedoen, nie omdat Hy nie kon nie, maar omdat ongeloof alles verstik het.
Dit is belangrik om te verstaan. Om jouself met positiewe mense te omring beteken nie dat jy jou onttrek van mense wat swaarkry nie. Jesus het tyd spandeer met sondaars, siekes en uitgeworpenes, maar Hy het húlle beïnvloed; hulle het nie Hóm verander nie. Daar is ’n groot verskil tussen om in liefde uit te reik en om toe te laat dat konstante negatiwiteit jou geloof, visie en krag uitput.
Spreuke 13:20 sê: “Hy wat met wyse mense omgaan, word wys; maar die metgesel van dwase ly skade.” Jesus het hierdie wysheid uitgeleef. Hy het verhoudings gekies wat groei, waarheid, moed en gehoorsaamheid aan God se doel en plan bevorder het.
Die les vir ons is duidelik. Ons moet wys kies in wie ons toelaat om inspraak te maak op ons besluite, drome en identiteit. Positiewe, wen-mense help ons om hoër te mik, dieper te glo en langer te volhard. Jesus se voorbeeld wys telkemale, om almal lief te hê beteken nie almal kry dieselfde toegang nie. Om jou kring wys te kies, is nie selfsugtig nie, dit is getroue rentmeesterskap van jou roeping.
Kies jou mense met wie jy jou omring vir die bereiking van jou doelwitte en uitlewing van jou roeping, met wysheid. Selfs Jesus het.


Comments