DROOM EN LAAT DROOM
- Wanda Bam
- Apr 22
- 2 min read
Updated: May 12
Prediker 3:11 (Afr83) “God het elke ding gemaak dat dit pas in 'n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens 'n besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie.” (Afrikaans)
Ek kyk nou die dag na ‘n fototjie van my kinders toe hulle so 9 en 11 jaar oud was. Elkeen met ‘n droom en ‘n plan vir elke begeerte en wens. As ek vandag terugkyk, weet ek dat al hierdie matelose kreatiwiteit tot niks sou gelei het as dit nie vir die beloftes van God is wat elkeen van hierdie drome en begeertes begelei het nie. Soms was dit buite die menslike boks, maar altyd binne God se veilige ruimte. My jongste wou ‘n model, skilder, sakevrou word en trou met ‘n “prins”. Van haar drome het my my hart laat vashou maar ek het gesien hoedat sy God met alles in haar soek en hoe die platform om vir Hom meer te doen, in plek geval het, die aand met haar kroning as Mej SA. Ek het geweet díé droom is buite my boks maar binne God se droom vir haar lewe. Vandag leef sy al hierdie talente en drome met Goddelike passie uit. My oudste wou ‘n aktrise, sangeres, mamma en sakevrou word. Vandag weet ek dat my “alleen-loop” kind wat dinge “anders” doen as die status quo, God se droom vir haar lewe leef. Nie net is daar soveel seen in haar sang nie, maar klop haar hart warm vir die Here. Sy is die beste mamma waarvoor ek kon vra vir my kleinkinders en ‘n suksesvolle entrepreneur. Daar is egter nie een gerealliseerde droom waarby ek of my kinders, nie ook uit die foute van ons eie pogings en probeerslae, kon leer en by baat vind nie. Kinders vlieg slegs hoog bo die aardse beperkings, as ons nie hulle vlerke bly knip met wat ons oor hulle lewens spreek nie. Laat jou kinders toe om groot te droom, buite jóú boks maar altyd binne God se droom vir hulle lewens. Pak jou begeertes uit jou eie gemaksone-boks en vra God vir rigting hieroor. Soms kan ander positiewe mense se vreugde, drome en optimisme jou grensloos irriteer. Dit is maar niks anders, as dat jy jou spieёl in hulle gedrag en sien hoe negatief jóú lewensingesteldheid is nie. ‘n Positiewe ontevredenheid met die lewe maak dat mens koersaanpassings in jou lewe aanbring waardeur jou lewe vernuwe word en jy ‘n waardevolle beinvloeder en voorloper in die samewlewing word. Moenie dit vir nog ‘n jaar net daar los nie. Ontdek Sy hoogtepunte vir jou en jou kinders in hierdie jaar nog.
Gebed: Here, ek sukkel om weer na die lewe te kyk en die mooi raak te sien. Help my om weer met hoop, geloof en liefde na my kinders en familie te kyk. Om hulle aan te moedig wanneer hulle hul drome met my deel. Ek bid dat U in alles geёer sal word.
Comments